Karamelkluitjies
WegSleep #3 | Mei 2007
RESEPTE: Annette le Roux FOTO'S: Dawie Verwey
Hierdie is die enigste poeding wat my suster Celia kan maak, want dit is bykans onmoontlik om dit te laat flop.
Jy benodig
- een en 'n halwe koppie koekmeel
- 1 eetlepel bakpoeier
- 'n knippie sout
- 2 eetlepels suiker
- 4 eetlepels (50 g) botter
- 200 ml melk
- 'n halwe koppie gekapte okkerneute
Só maak mens
- Sif die droë bestandele saam.
- Vryf die botter en neute in die meelmengsel in en maak dit aan met die melk. Dit sal 'n sagte deeg vorm.
Maak die sous
- Smelt een en 'n halwe koppie suiker droog in 'n groot kastrol en roer dit totdat dit karamelkleurig is.
- Voeg 2 eetlepels (25 g) botter by.
- Gooi 500 ml kookwater bietjies-bietjies by en roer dit totdat die karamel loperig is. Wees versigtig - dit kan dalk spat. Voeg 'n knippie sout by.
- Skep lepels vol deeg in die gesmelte karamel. Sit die deksel op en laat dit vir 12 minute oor flou kole kook.
- Bedien dit saam met room, vla of roomys.
Annette sê
Haal die suiker van die plaat af voordat dit donker raak, anders is dit bitter. Dit moet net 'n ligte karamelkleur hê, want die suikerstroop word later donkerder as die kluitjies daarin kook. Daar is geen salf te smeer aan suiker wat te donker geraak het nie - dan moet jy maar van vooraf begin.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



