Gevulde lamsrol
WegSleep #12 | Mrt-Apr 2009
RESEPTE:Bernice van der Merwe FOTO'S: Ruvan Boshoff

Hierdie gereg sal selfs die puntenerigste kok in jou geselskap beïndruk. Dit lyk pragtig wanneer jy die vleisrol in skywe sny. Die ongewone kombinasie van smake werk uitstekend.

Jy benodig

  • 1,2 kg lamsblad, ontbeen
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g droë appelkose, gesnipper
  • 100 g amandels, fyngekap
  • 200 g fetakaas, gekrummel
  • 50 ml olie
  • 200 ml appelsider, soos Hunters Dry of Savanna
  • 250 g murgpampoentjies, in stukke gesny
  • 250 g vlapampoentjies, in stukke gesny

Só maak jy

  • Geur die lamsblad met sout en peper, meng die appelkose, neute en fetakaas. 
  • Versprei die vulsel oor die lamsblad en druk dit effens plat met jou hande.
  • Rol die blad en steek dit vas met tandestokkies. 
  • Verhit olie in ’n platboompot en braai die rol reg rondom tot goudbruin.
  • Giet die appelsider oor die rol en besprinkel dit weer met sout en peper.
  • Sit die deksel op en bak die rol vir sowat ’n uur tot ’n uur en ’n half. 
  • Rangskik die groente rondom die rol sowat 30 minute voordat jy dit gaan afhaal.
  • Laat die rol rus, verwyder tandestokkies en sny dit in skywe.


WegSleep sê

Sorg dat jy die amandels ordentlik fynkap, sodat dit as bindmiddel kan dien wat die vulsel bymekaarhou wanneer jy die rol in skywe sny.
 

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.