Gesondheidstafies
Bont en gesond
As die kinders begin kla vir ’n soetding om aan te kou, is hierdie ’n goeie alternatief vir lekkers.
Jy benodig
500g saad (sesam en pampoen)
’n hand vol droë bosbessies (cranberries)
’n hand vol rosyne
4 eetlepels koekmeelblom
50 ml stroop of heuning
Só maak jy
1 Gee hom gas! Voorverhit die oond tot 180°C.
2 Dit gee die meel ’n beter greep. Verhit die saad, bessies en rosyne vir 3 minute in die mikrogolfoond. Roer dit ná elke minuut. Sprinkel die meel oor die sade en roer dit deur.
3 Hier komdie gom. Gooi nou die heuning oor en roer die mengsel deur totdat jy geen wit meelspikkeltjies meer sien nie.
4 Kompak vir bak. Voer ’n broodpan met foelie uit, skep die mengsel in en druk dit goed vas. Bak dit vir 15 minute en laat dit dan afkoel voordat jy die saadblok op ’n draadrak uitkeer.
5 Die Baker’s Man sou trots wees. Wanneer die blok heeltemal afgekoel het, kan jy dit op ’n broodplank oortel en met ’n baie skerp mes in netjiese vingers van ongeveer 3 cm breed opsny.
WegSleep sê: As jy nie droë bosbessies kan opspoor nie, kan jy pruimedante en droë pere en perskes opsnipper en in die plek daarvan gebruik.



