Gerookte vis
WegSleep #22 | April 2010
Resepte: Tiaan Langenegger, Foto’s: Ruvan Boshoff

Gerookte vis

Jy benodig

1 vars visfilet soos kabeljou, geelstert of geelbek
olyfolie
sout en peper
’n paar hande rooksaagsels
’n groot stuk tinfoelie

Só maak jy

1 Blinklyf nóg blinker. Smeer die vis aan albei kante met olie en sit dit eerste met die vel na onder op die rooster.

2 Semi-gaar. Braai die vis vir 3-5 minute aan elke kant sodat dit nie heeltemal rou is wanneer jy dit begin rook nie.
3 Staan by. Skeur solank ’n stuk foelie, groot genoeg om die rooster én kole te bedek, van die rolletjie af. Haal nou die rooster af en gooi twee hande vol saagsels in die kole.

4 Die trane die rol... Sit die rooster vinnig terug en bedek dit met die vel foelie.
5 Dwarrel dié kant toe, man! Probeer soveel as moontlik van die rook vasvang terwyl die saagsels uitbrand.

6 Moenie oorhaastig wees nie. Hou die foelie vir so 5 minute op. In dié tyd kan jy die rooster een keer omdraai en die foelie dadelik weer bo-oor sit.

7 Hier gebeur dinge nou. Die vis het teen dié tyd ’n liggeel
kleur gekry. Gooi nou ’n bietjie sout en peper oor.

8 Por hom ’n bietjie aan. Druk met jou vingerpunte teen die vis om te voel of die vleis al ferm en dus gaar is.

9 Reg vir weglê. As die vis maklik vlok, kan hy maar bord toe.

WegSleep sê: Akkerhoutsaagsels van ou wynvate werk die beste en gee ’n aangename geur aan die vis. ’n Sakkie van 300g kos ongeveer R30 by Agrimark of ander plaaswinkels.

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.