Drie maklike doopsouse
WegSleep #23 | Junie 2010
RESEPTE Tiaan Langenegger, FOTO'S Ruvan Boshoff

Drie maklike doopsouse

Ladu-u-u-madoepa!

Terwyl jy dié vakansie voor die televisie sit en kyk hoe Brasilië die Ivoorkus se tjank aftrap,
is daar nie tyd vir yskas toe
hardloop om ’n paar blertse tamatiesous en mayo te meng nie.
Nee, die game verg jou onverdeelde aandag. Maak dus reeds voor die tyd vir jou ’n paar doopsousies.

Jy benodig

  • 3 bakkies room- of gladde maaskaas
  • sout en peper na smaak
  • ’n hand vol gekapte pietersielie
  • 1 eetlepel groenpeperkorrels
  • 1 teelepel paprika
  • 100g parmesaankaas, fyngerasper
  • 1 takkie roosmaryn, fyngekap

Só maak jy

1 Klits jou kasie. Skep die houertjies room- of maaskaas elkeen in ’n aparte bakkie uit en roer elkeen totdat dit glad is.
2 Net vir die smaak. Sprinkel ’n bietjie sout en peper oor elke bakkie en meng dit goed deur.
3 Tjoptjop ’n trio. Meng die pietersielie by die eerste bakkie in, die peperkorrels en paprika by die tweede bakkie en die parmesaankaas en roosmaryn by die derde bakkie.
4 Doop so tussen die doele deur. Kry jou sit, skakel die TV aan, warm jou vuvuzela op en lê weg met jou tjips!

WegSleep : Bêre die oorblywende bietjies doopsous sommer in die maaskaasbakkies in die yskas vir die volgende aand se sokker. En dollie hulle dan op met skaafsels biltong of fyngekapte sprietuie.

Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.