Brandmielies
WegSleep #1 | Januarie 2007
RESEPTE: Francette Coetzee FOTO'S: Ruvan Boshoff
Dis lekker om ’n gewone mielie van die stronk te eet nie. Maar as jy die mielie so ’n bietjie dokter, proe dit nog beter.
Jy het nodig
- 4-6 mielies in die blare
- 175 g botter
- 4 teelepels rissie-olie
- 4 groen rissies, ontpit en fyn gekap
- 4 spriet-uie, dun gesny
- 2 teelepels suurlemoensap
- Sout en varsgemaalde swartpeper
Só maak mens
- Week die mielies in koue water vir minstens een uur.
- Skud die water af en sit die mielies dan net so op die kole vir ten minste 30 minute. Draai dit elke nou en dan om. Intussen kan jy die botter smelt in ’n pannetjie. Skep die skuim af en giet die helder botter in ’n bakkie.
- Net voordat die mielies reg is, verhit jy die rissie-olie in ’n pan, voeg die rissie by en braai dit vir 1 minuut. Verwyder dit van die hitte en voeg nou die helder botter, spriet-uitjies, suurlemoensap en sout en peper by die rissies.
- Wanneer die mielies reg is en die blare afgetrek is, giet die rissiesous oor en eet dit dadelik.
WegSleep sê
Moenie vergeet om die mielies eers goed te week nie, anders slaan hulle aan die brand op die kole – en dis nie hoe mens springmielies maak nie.
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



