Boere-ciabatta
WegSleep #9 | Sept - Okt 2008
RESEPTE: Nettie Pikeur FOTO'S: Ruvan Boshoff
Dis maklik om hierdie eenvoudige brooddeeg te maak. Jy kan dit vir roosterkoek gebruik, maar dit werk ook om die hele stuk deeg net so kole toe te stuur. Ons voeg papawersade by en bedien dit in dik snye met kerfies biltong.

Jy benodig
- 1 koppie broodmeel
- ½ koppie bruismeel
- ½ teelepel droëgis
- 1 eetlepel sout
- 1 eetlepel vars papawersaad (opsioneel)
- 1 tot 2 koppies water
Só maak jy
- Meng al die droë bestanddele in ’n groot mengbak.
- Voeg water bietjies-bietjies by tot dit ’n stywe deeg vorm.
- Strooi jou hande met meel, haal die deeg uit die bak en plaas dit op ’n plat tafel of bord. Laat dit vir tien minute rus.
- Knie die deeg vir slegs vyf minute, en vorm dit in ’n ovaalvormige ciabatta.
- Strooi ’n teelepelvol papawersaad oor en druk dit in die deeg vas. Draai die stuk deeg om en doen dieselfde op die ander sy.
- Laat die brood rys vir sowat 1 uur, plaas direk op die warm kole en bak deur.
- Draai die brood elke drie tot vier minute om, soos jy met askoek sal doen.
- Stof die ergste as en kooltjies af, sny in dik snye en bedien met botter en kerfies biltong.
WegSleep sê
Smeer snye boere-ciabatta liggies met olie of gesmelte botter, pak dit op die rooster en plaas ’n plakkie tamatie en ’n bietjie gerasperde kaas bo-op elkeen. Haal dit af sodra die kaas begin smelt. Daar’t jy nou fênsie braaibroodjies!
Jy moet ingeteken wees om oor hierdie storie to gesels. Klik hier om aan te meld.



