Dis nie goed om ’n brief met ’n verskoning te begin nie, maar hierdie is regtig ’n goeie verskoning. Ek is jammer as jy al moeg gewag is vir die jongste WegSleep-nuusbrief. Ons het nie vergeet nie, ons was net ’n bietjie besig. Regtig!
Die week voordat ons ’n tydskrif drukkers toe stuur, raak dinge nogal rof hier op kantoor, maar dis die moeite (en al die Red Bulls) werd. WegSleep #25 is van hierdie week af op die rak en ons glo dis ’n uitgawe waarop ’n mens trots kan wees. Nie net is daar stories oor Namibië, potjiekos en die land se vyfsteroorde nie, maar ook ’n baie opwindende aankondiging.
WegSleep het met Jurgens Ci kragte saamgesnoer en gee lesers die kans om ’n nuwe karavaan te ontwerp wat uieindelik in Jurgens Ci se fabriek gestalte sal kry. Kortom, jy kan jou droomwoonwa ontwerp, en as dit ’n lewensvatbare ontwerp is en die as die wenner van die kompetisie aangewys word, sal Jurgens 100 sulke karavane bou waarvan jy die eerste een sal kry. Lees in die jongste uitgawe meer.
Gryp jou potlode en tekenbord en laat kom jou karavaanontwerp!
Groete tot volgende maand.
Zigi Ekron REDAKTEUR
WegSleep-tydskrif
In dié uitgawe
Ontwerp jou eie kampwa! Ontwerp en wen jou droomwa saam met WegSleep en Jurgens Ci
Namibië: Drie kampplekke in die suide van Namibië wat jy in die September-vakansie kan takel
Kamp soos ’n koning: Daar is vyf vyfsterkampterreine in Suid-Afrika – só lyk hulle
Toerusting: Dinge om muskiete en ander goggas af te maai
Sleepdokter: Kamp jy altyd saam met die kleinspan?
Die Chapmanspiek-woonwaplaas is net die plek vir daardie stadsjapies wat dink melk word by die supermark gemaak en eiers in halfdosynhouertjies geskape.
Die park roem hom op sy andersheid – en dit is inderdaad anders as waaraan die meeste kampeerders gewoond is. Pleks daarvan om op jou hoede te wees dat jy nie oor tenttoue val nie, moet jy eerder jou oë oophou om te sorg dat jy nie per ongeluk op een van die klein eendjies trap wat deur die kamp drentel nie.
Ons het ’n nuwe webwerf waar jy kampplekke regoor die land kan soek. Gaan na WegSleep se webwerf, klik op "Akkommodasie" en vind die regte wegbreekplek vir jou en die gesin.