Redakteursbrief
Kan jy glo?! In ’n verrassende wending is WegSleep se nuusbrief vandeesmaand vroeg. Ons intekenare se eksemplare van die September-uitgawe is Dinsdag reeds gepos, en as jy nie ’n intekenaar is nie, kan jy die tydskrif van Maandag af op die winkelrak kry. Maar ek kan nie tot dan wag met die belangrike sake wat ek met julle wil deel nie...
Eerstens moet ek almal wat nog nie hulle inskrywing ingestuur het vir die karavaanontwerpkompetisie wat WegSleep saam met Jurgens Ci aanbied nie, aanmoedig om dit so gou as moontlik te doen. Hier lê al ’n hele paar inskrywings op my lessenaar en dis duidelik daar skort niks met ons lesers se vindingrykheid nie. Gryp dus jou potlood en laat ons sien hoe jóú droomwoonwa lyk.
Dan kom ons by die groot nuus van die dag: WegSleep het nou sy eie Facebook-blad – ja, ons is nou amptelik byderwets! Daar kan jy sien waarmee die redaksie hulleself besig hou, waar ons onlangs was, en ook sommer op die hoogte bly van nuusflitse en -dinge. Ons grawe ook elke nou en dan iets uit ons argief, net om te onthou wat WegSleep oor die afgelope paar jaar al alles gedoen het, maar ook sodat jy jou vriende kan wys watse gawe leesstof hulle misloop as hulle nog nie WegSleep kry nie.
Om ons op Facebook op te spoor, kliek hier, of soek vir “WegSleep” op die Facebook-webwerf en klik op “Like” langs die soekresultaat.
Indien jy eerder makliker verteerbare WegSleep-brokkies soek, volg ons op Twitter. Volg net die skakel http://www.twitter.com/wegsleeptweet. Óf as jy sommer net met ons lesers wil saamgesels op WegSleep se webwerf, gaan na www.wegsleep.co.za.
Laastens is daar ongelukkig vir van ons lesers minder goeie nuus: Hoewel ons bemarkingsafdeling daagliks nog oproepe kry van lesers wat wil plek bespreek in WegSleep se kampplek by die Aardklop- nasionale kunstefees einde volgende maand, is al die beskikbare staanplekke ongelukkig al bespreek. Die aanvraag was beslis groter as wat ons verwag het, maar ons sal dit weer doen en dan maak ons dit nóg groter en beter.
Groete.
Zigi
|