Ontwerp en wen jou droomwa saam met WegSleep en Jurgens Ci.

Ontwerp en wen jou droomwa saam met WegSleep en Jurgens Ci.

Ontwerp en wen jou droomwa!

Hier is jou kans om te sien hoe jóú planne vir die “perfekte” karavaan in WegSleep en die Jurgens Ci-fabriek gestalte kry.

Hoe werk dit?

  • Room van die oes. Jurgens Ci se deskundiges en WegSleep sal die inskrywings beoordeel en vier finaliste kies.
  • Hier te kort en daar te lank. Jurgens Ci se ontwerpers sal die voor- en nadele van die ontwerpe bespreek en sê hoe hulle daaraan sou skaaf om dit lewensvatbaar te maak.
  • Só lyk die planne. WegSleep sal in sy Desember/Januarie- en Februarie-uitgawe telkens twee finaliste se ontwerpe publiseer, saam met Jurgens Ci se terugvoer.
  • Bekyk hom goed. Jurgens Ci se rekenaarsketse van die finaliste sal terselfdertyd op ons webwerf (www.wegsleep.co.za) verskyn.
  • Jy kies. Sodra die vier finaliste gekies is, sal jy per SMS vir jou gunsteling kan stem.
  • En die wenner is... Die ontwerp wat ná twee maande die meeste stemme het.
  • Laat die wiele rol. Jurgens Ci sal 100 karavane volgens die wenontwerp bou. Die leser wat die wenontwerp ingestuur het, sal die eerste een van hierdie karavane ontvang.

Só maak ’n mens

Hoe jy jou wa ontwerp, is jou eie keuse en as jy regtig ’n plan wil stuur wat lyk soos Soccer City op wiele, is jy welkom. Hou egter kriteria soos bemarkbaarheid en koste in gedagte. Daar is ook ’n paar reëls en regulasies om aan te voldoen. Lees eers die raad van Clive Cox, Jurgens Ci se ontwerphoof, voor jy die tekenbord nader trek.

Wat sê die wet

  • Só lank. ’n Karavaan mag nie langer as 8 m wees nie (die A-raam uitgesluit).
  • Staan nader. Die wiele mag nie verder as 8,5 m van die sleephaak af wees nie.
  • Kortstert. Die afstand tussen die wiele en die agterkant van die wa mag nie meer as 70% van die afstand tussen die wiele en die haak wees nie. Hoe groter dié afstand, hoe meer onstabiel sleep die wa; hoe korter hoe meer gewig rus op die sleephaak.
  • Só breed. ’n Karavaan mag nie breër as 2,5 m wees nie. Los ongeveer 10 cm speling vir wielboeë, vensterrame en mure. Werk dus met ’n binneruim van 2,4 m of smaller. Onthou, ’n breë karavaan bied meer windweerstand.
  • Só hoog. Die afstand van die pad tot by die nok van die karavaan mag nie meer as 1,8 keer die breedte van die wielsporing (die afstand van die middel van die een wiel tot by die middel van die ander) wees nie. As die wielsporing dus 2,4 m is, mag jou wa 4,32 m hoog wees. Dié verhouding bepaal die swaartepunt van die wa. Hoe hoër die dak, hoe makliker kan die wa kantel in ’n draai. Hoogte beïnvloed ook die woonwa se windweerstand.
  • Staanplek. Los sowat 2 m tussen die vloer en plafon. Dit geld ook vir opwipdakke wat uitgestoot is. ’n Opwipdak verminder windweerstand.
  • Só swaar. ’n Volgelaaide karavaan moet minder as 1 850 kg weeg. (Dis die brutovoertuigmassa of BVM.)
  • Pak in. Die leë wa moet minstens 15% minder weeg as wanneer dit gelaai is. (Dis die Tarra.) Hou dit in gedagte wanneer jy goed soos ’n stoof en yskas kies.
  • Hokaai nou. ’n Sleepding met ’n BVM van meer as 750 kg moet inloopremme hê.
  • Watter voete? As ’n reël gebruik Jurgens-Ci 14” wiele op gewone karavane en 15” op boskaravane.
  • Wielskaal. Die gewiglimiet op die velling en die band van ’n 14”-wiel is 900 kg en 850 kg onderskeidelik. Die BVM van ’n enkelaswa mag dus nie meer as 1 700 kg wees nie.

Kry balans

  • Wat kom waar?  Versprei die gewig van kassies, yskaste en bankies eweredig in die wa. Te veel gewig agter laat die wa moeilik (en gevaarlik) sleep, en te veel voorin maak die neus te swaar.
  • Alkant selfkant. Die gewig aan die linker- en regterkant van die wa moet dieselfde wees. As jy ’n yskas aan die linkerkant sit, moet jy dit aan die regterkant met ’n soortgelyke gewig balanseer.

Water en Ligte

  • Direkte of wisselstroom? As jy graag lank by ’n gewone oord staan, sal ’n 220 V-kragtoevoer voldoende wees. Maar as jy jeukerig is en hou van rond-toer, is ’n 12 V-batterystelsel wys.
  • Is jy dors? ’n Waterkan van 25 ℓ is genoeg vir skottelgoed of gesigwas.
    Maar as daar ’n stort in die karavaan is, moet jy vir ekstra water plek maak.

Voorstoep

  • Mooi maar moeilik. Die vorm van die karavaan bepaal die stoepdakkie en tent. ’n Profiel wat te skuins is, is onprakties en ’n langer, horisontale lyn werk die beste.
  • Min maar in. Al is die tent van seil, weeg dit baie. Reken dit as ekstra gewig by die dravermoë van die karavaan in.

Só skryf jy in

Dis jou kans

  • Dis alles in die detail. Elke inskrywing moet ’n noukeurige skets van die linker- , regter-, voor- en agteraansig van die karavaan insluit sowel as ’n vloerplan.
  • Praat uit. Verduidelik in 1 000 woorde of minder wat jou ontwerp beïnvloed het.
  • Wie is jy? Onthou om jou naam, adres en kontakbesonderhede op die inskrywing te verskaf. Sit dit veiligheidshalwe op elke afsonderlike bladsy van jou inskrywing.
  • Pos jou plan. Jy kan jou inskrywing stuur aan:
    WegSleep Posbus 1802, Kaapstad 8000
    of stuur dit per e-pos na wegsleep@weg.co.za of faks na 021 446 1014
  • Maak seker jy merk jou inskrywing duidelik WegSleep/Jurgens Ci – ontwerpkompetisie.
  • Moenie laat wees nie. Inskrywings moet die WegSleep-kantore teen middernag op 30 September bereik.

Bepalings en voorwaardes

Die fynskrif

  • Doen jou eie werk Inskrywings moet deelnemers se eie oorspronklike ontwerpe wees.
  • Wie se plan is dit? Elke deelnemer onderneem om kopiereg van sy ontwerp aan Jurgens Ci af te staan indien dit as die wenner gekies word.
  • Speel mooi saam. Slegs een karavaan sal as prys uitgeloof word, al is die wenontwerp die gevolg van twee of meer persone se samewerking.
  • Wie kry die wins? Die eienaar van die weninskrywing sal nie geregtig wees op enige vergoeding of deel van die wins op verkope van karavane wat Jurgens Ci volgens die wenontwerp bou en verkoop nie.
  • Goed, beter, beste. Jurgens Ci behou die reg voor om aan ontwerpe te verander ten einde ’n lewensvatbare produk te lewer.
  • Jammer julle... Jurgens-Ci-personeel, hulle nabye familie en verskaffers aan Jurgens-Ci mag nie deelneem nie.
  • ...en julle... Campworld-handelaars en die eienaars asook hul direkte familielede mag nie deelneem nie.
  • ...en ons WegSleep-personeel en hulle families mag ook nie inskryf nie.
  • Kry vir jou. Die prys sal by die wenner se naaste Campworld-handelaar oorhandig word.
  • Klaar gepraat. Die beoordelaars se besluit is finaal en is nie onderhandelbaar nie.

© Kopiereg 2010 WegSleep. In Suid-Afrika uitgegee deur Media24.